F  R  E  E       W  I  L  D       W  O  R  L  D 
 A   T  r  a  v  e  l   B  l  o  g   f  o  r   t  h  e   W  i  l  d   a  t   H  e  a  r  t


AFRIKAANS 

Ek is Afrikaans. Afrikaans is my moedertaal.   

Slagtery - Deel 1

Ek het besluit om niks meer te voel nie. Vanaf die oomblik sal ʼn landskap slegs ʼn abstrakte stuk postmodernistiese kuns wees, oop vir individuele, rasionele en intellektuele interpretasie, ʼn onwaarheid wat gevorm word in die brein van die aanskouer. Die veld is geel, die blomme is rooi, die grond is bruin en die lug is blou; en dis al. Die kosmos is ‘n totale veelkantige fokkop, en niks het enige besondere mening nie. Dinge gebeur nie met ʼn rede nie. Elektriese komberse slaan spontaan aan die brand en vernietig kinders saam met hulle teddiebere en troeteldiere.  Hierdie nuwe wan en aangepaste teorie en ewig veranderende vorm is die wapens waarmee ek my ou dogmatiese, partriargale god vernietig. Wat ʼn verligting.

Fok DIE WET, ek maak my eie wette.

Na baie ure agter op ʼn  oorvol trok met poegaai skokbrekers op ʼn slegte pad deur die Noorde van Mosambiek bereik mens eventueel ʼn kopgrens, een waarvan die oorsteek onafwendbaar is. Daai keuse was reeds dertig dae terug gemaak aan die begin van die reis. Die besluit om die reis aan te pak impliseer die aanvaarding van alles wat dit sal behels. Individuele vrye wil word vrywilliglik verpand vir ʼn kaal bladsy wat woorde soek. Die storie vertel homself. Ek is net ʼn toeskouer met ʼn kamera, pen en ʼn onbetroubare geheue. Die prys vir die tipe ondervinding is die totale verloëning van beheer. (Illusies het nie buskruit nodig om te ontplof nie.)

My boude is lam gesit, die dralende stofdeeltjies klou aan my klere, hare en neusvleuels. Ek sit gegiet in dieselfde posisie vir die laaste uur. My spiere dreig om te kramp. Niemand praat nie. Almal se gelaatstrekke is gestol in aanvaarding, dis net ek wat nog stoei teen die meganika van oorgawe.

(Dis in elke geval te raserig om ʼn gesprek te voer en ek kan nie Portugees praat nie.)

Ek oorweeg ʼn effense skuif om die druk op my agterstewe te verlig met die wete dat dit die kollektiewe balans sal versteur, dat my linker arm teen die ou man langs my se ribbekas sal druk en dat hy op sy beurt ʼn liggaamlike aanpassing sal moet maak met slegs ʼn gedempte kug as protes en wat dan sy buurman en die se buurvrou sal dwing om dieselfde te doen, soos selfverstellende menslike domino’s.  Skuldgevoellens fok met my kop en desperaat soek ek ʼn verband met Calvinisme sodat ek die blaam vir my opkomende pynverligting ook metafories kan verskuif na iets anders, soos die duiwel miskien, of al die stront wat ek geleer is in katkisasie. Dis nie my skuld nie, dis hulle; dis altyd hulle.  

Die trok bereik ʼn besondere slegte deel van die pad en ons wip-wip voort in ons moer in. My gat voel soos ʼn kaasrasper op ʼn bouterrein. My denke word ʼn warboel van oordonderende sintuiglike stimulasie en my laaste helder gedagte is dat ek seker nou gaan mal word want ek kan eenvoudig nie meer nie, ek is nie so tough soos ek gedink het nie, apparently is Afrikaners ook wondbaar and cowboys can cry, and cry, and cry until they run out of c’s; en dan skielik disintegreer iets diep binne my. Die gevoel van selfbejammering en selfs die fisiese pyn morf tot ʼn swaar en duister stilte en ek sak weg in ʼn self geïnisieerde, gemaklike koma. Ek word ʼn stuk seewier wat apaties saam met die stroom wieg, diep onder die water, ʼn sliertende waterplant wat homself oorgegee het aan die onpeilbare strominge wat doelloos wieg saam met die donker gety. Verduideliking en gewete word oorbodig. Die metaalklanke verdof tot kamma-kamma borrelgeluide en vêr na bo glimmer die son onbereikbaar en afgesonder deur dik lae water wat soos gesmelte sierglas met die strale speel; soos ʼn kampvuur wat brand op ʼn movie skerm . Die cowboys en Apaches het vrede gemaak en braai vanaand tesame. Sommiges sing liedjies, ander vroetel onder die komberse. Daar is geen pyn in die movie nie en die einde gaan moerse happy wees (sodra die fokken trok eendag stop). Dis my movie. Dis my abstrakte landskap gevorm met my eie gedagtes. Die enigste een waaroor ek ʼn mate van beheer het. Niemand eet slaai nie en almal is gelukkig.

Oor nog ʼn uur sal die proses herhaal. Alles is oneindig. Die hemel en die hel het verskeie levels, baie meer as sewe maal sewe.


Gisteraand nog het ek gestap deur die agterstrate van Tete met ʼn bier in die hand. Dit was my eerste aand in Mosambiek en alles het my bekoor, die uitbundige mense in groepies rondom houtskool vure, pool games voor raserige luidsprekers, Die ligte wat aan en af flikker soos ʼn kersfeesboom vol strate, selfs die hope stinkende rommel wat plek-plek in die vaal strate lê en vrek het, het hulle plek in my bekoring gehad. Dit was alles deel van die ervaring, deel van my freaky movie. Real, but not real. Ek voel mos nou ‘n fok, jy sien? Ek het lank gedroom van die plek en dis presies hoe dit moes wees. Ek het alleen en dronk al hoe verder van die hoofstraat gewandel. Een naai-dom brawe Afrikaner in donker Afrika. Toe ek verby die polisiestasie stap roep ʼn jong man met ʼn oop gesig in uniform my nader. Hy was ʼn soldaat en sy AK 47 het soos ʼn kleuter in droomland gemaklik in sy arms gelê. Dierbaar en gevaarlik in die flikkerende kunsmatige lig. My hart het vinniger geklop. My adrenalien het gepomp soos ‘n Amerikaanse tiener. Ek het uiters weerbaar gevoel met die wete dat niemand na my sou soek as ek daar sou wegraak nie, maar soos ‘n professionele bullshitter of reality het ek my pose gehou.

Twee van sy kolegas (vrouens) het stip na my gekyk met onvriendelike gesigte. Na ʼn paar vrae het die man my laat gaan. Omtrent ʼn honderd meter verder het ek verby ʼn groepie mense gestap terwyl hulle rook en skertsend drankies drink. ʼn Besorgde man het daarop aangedring om my met sy motorfiets terug te vat na my kamer. Sy woorde toe hy my aflaai het my koud en nugter gelaat. “You must be careful here. It’s not safe. They are figting in the area. A week ago a man was killed close to the police station you passed.” Ek het hom bedank. Ek het nog ʼn bier gekoop en ʼn verweerde draadstoel tot in die middel van die verlate straat gesleep. Daar was ʼn paar spelende kinders wat ophou speel het om my aan te gaap. Dit het gevoel of ek op ʼn verhoog was en moes perform. Ek het gedink oor hoe onnosel ek was en het myself berispe. Ek het myself vertel dat ek wakker en verantwoordelik moet wees. Dat die lewe nie ʼn alewige grappie is nie. Dat ek alleen en weerbaar in ʼn  vreemde land is en dat die noodlot alewig opsoek is na bloederige  plekkies om fees te vier. Ek het gaan slaap met die wete dat ek nog geheel en al te veel voel en dat oormatige euforie en blydskap jou dood kan veroorsaak.